Nuwejaarsvoorneme werk nie!

March 27th, 2011 by Christa Jordaan

Ek dink ons het nou die bewys gekry. Ek het so vol brawade besluit wat ek alles hierdie jaar gaan doen, niks het nog waar geword nie. Dit is die einde van Maart en my eerste bloginskrywing is om te sê my voorneme het misluk. Ek gaan dus weer probeer.

Ek dink die ding is, mens moet dinge doen as jy so besluit. Langtermyn beplanning werk nie in die alledaagse lewe nie. Ek kan  beplan om ‘n boek te skryf, maar om my tante te gaan besoek, saam met my buurvrou tee te drink of ‘n epos vir iemand wat ver bly te skryf, is dinge wat jy nou moet doen. Die lewe is ‘n oogwink, net ‘n klein oomblik…

Ek het my oudste broer, ons ouboet, laas maand verloor. In die week wat verby is, vra ek my ander broer iets oor my pa se opleiding in Amerika in die laat veertiger jare. “Dit moes jy eintlik vir Dolf kon gevra het, ek weet nie so baie daarvan af nie,” antwoord hy. Daarvoor is dit egter te laat…

Dit bring my by ‘n  groot hartseer van die oomblik. My en Manlief se nuutste boek, “Oudword is nie vir sissies nie -vir mans” het die afgelope weke die lig gesien.  Ons het besluit om die boek aan my ouboet op te dra en dit vir eers vir ‘n verrasing te hou. Ons wou die boek aan hom skenk sodat hyself dit kom raaklees. Ek was baie opgewonde hieroor.

Toe die boek drukkers toe is was hy reeds siek, maar ons het nie verwag dat hy  nie sal beleef dat die boek die lig sien nie, nou is dit ook inderdaad te laat… Dalk weet hulle al hierdie dinge, troos ‘n welmenende,  maar ek sou so graag wou hê hy moes dit saam met ons beleef het! Sê die dinge wat jy wil en moet sê, ons kan nie op môre roem nie!

Posted in blogs

Leave a Comment

Please note: Comment moderation is enabled and may delay your comment. There is no need to resubmit your comment.

About Christa Jonker-Jordaan

Christa Jonker- Jordaan is een en vyftig jaar gelede in Bloemfontein gebore. Sy is getroud met Gerrit Jordaan, en het 4 kinders, 2 seuns en 2 dogters, waarvan die twee oudstes reeds getroud is. Sy het 1 kleindogter.

Lees meer or Christa en haar boeke, dagstukkies, gedigte en ander publikasies.