Pienk skoene (nommer 1)

March 27th, 2011 by Christa Jordaan


 

Vroue veral oumas is suckers vir fyn klein babakleertjies. Ek erken dadelik ek kan sulke goed moeilik weerstaan. So was dit ook hierdie week met die pienk skoene. In my verbeelding kon ek klaar daardie klein ewe pienkvoetjies in die skoene sien. Voetjies wat nog nooit geloop het nie, kordaat met pienk skoene.

 

In die winkel. na ek dit in my kooptrollie gesit, het dit almal se aandag getrek. Een vrou het dit glad van my trollie af geraap en dit onder haar vriendin se oë gedruk, met al die nodige Aaahhh! en oeee! geluide. By die betaalpunt het dit ook weereens ‘n oproer veroorsaak. By die huis kon ek nie wag om vir almal te wys nie, tot die tuinier, Livingstone, moes die skoene aanskou.

 

Ek het die skoene in my studeerkamer op die tafeltjie gesit en daarna gekyk… Behalwe dat die skoene oulik en sommer net oorweldigend cute is, sê dit so baie, het ek gedink. Dit vertel van die genade van ‘n lewetjie wat ons gaan kom verryk, dit vertel van die eerste tree op die pad van die lewe, dit sê ook van geborgenheid teen die seer van klippies op ‘n lewenspad. Die uitbundige pienk spreek die hoop uit dat haar lewetjie vol vrolike danspassies sal wees. Hoe ekstaties kan mens se lewe nie wees as dit begin “when I put on my dancing shoes” nie!

 

Laastens, vertel die skoentjies dat sy klaar ‘n plekkie in haar ouma se hart oop getrap het, voor sy die lig van die lewe aanskou het. Ons wag haar met vreugde en afwagting in, die meisie wie se naam, Lewe, beteken.

 

Posted in Uncategorized

Leave a Comment

Please note: Comment moderation is enabled and may delay your comment. There is no need to resubmit your comment.

About Christa Jonker-Jordaan

Christa Jonker- Jordaan is een en vyftig jaar gelede in Bloemfontein gebore. Sy is getroud met Gerrit Jordaan, en het 4 kinders, 2 seuns en 2 dogters, waarvan die twee oudstes reeds getroud is. Sy het 1 kleindogter.

Lees meer or Christa en haar boeke, dagstukkies, gedigte en ander publikasies.