Ouderdom is nie vir sissies - vir Mans
Die onsigbaarheid van geluk
Ek was my lewe lank nog gelukkig en ver bo verdienste geseënd. My opvoeding was uit die boonste rakke en my kinderjare gelukkig. My loopbaan was relatief suksesvol en interessant. Goeie gesondheid agtervolg ons as’t ware en ons gesin het ‘n minimum hartseer en ellende beleef. Ons (langerige) string kinders en kleinkinders het tot dusver net plesier vir die familie gebring. Voorwaar ‘n geseënde lewe.
Maar steeds ervaar ek oomblikke van pessimisme en negatiwiteit. Miskien sou ‘n ekstra bonus hierdie Kerstyd darem handig gewees het. Of sal ek ooit die onseker finansiële tou kan stap vir die duurte van my aftrede wat nie meer te ver kan wees nie? Nee, soos varke graag in modder rondrol, so rol die mens graag in onsekerheid en ontevredenheid rond, heel onbewus van die groot getal seëninge wat ons almal elke dag ontvang. Ons geluk is dikwels onsigbaar vir onsself.
Die tragiese gebeure waaronder talle gemeenskappe dikwels gebuk gaan – waarvan baie deur hulself en hul leiers op hul pad gebring is – skep noodwendig gemeenskappe van leiding en hartseer. Tog is dit bekend dat in die bitterste van tye kinders hulself steeds vermaak, oënskynlik onbewus van hul omstandighede.
Namate kinders grootword, verloor hulle baie van hul fisiese uitbundigheid en energie. So verloor ons volwassenes dalk ons geestelike soepelheid en daarmee saam die vermoë om ons daaglikse geluk werklik raak te sien. Ons oueres soek dikwels iets spesiaals daar ver op die einder, pleks daarvan om ons net oor te gee aan die goeie dinge wat binne ons bereik is.
*********************************************************************************************
Voordele van ouer wees
Jy het waarskynlik kinders om die gras te sny en brood te gaan koop.
Jy het genoeg geld om die motor te laat was. Jy hoef dit nie self te doen nie.
Jy gee nie meer om wat ander mense van jou dink nie.
Jy is gemaklik in jou eie vel.
Jy dra klere wat by jou pas en is tevrede met jou eie klerestyl.
Jy leen nie meer jou gereedskap uit nie en sê dit duidelik vir wie ookal vra.
Jy gaan slaap vroeg sonder om iemand om verskoning te vra.
Jy kan ‘n drankie drink voor die vliegtuig oor is.
Jy kan drie boeke gelyk lees, slegs die helfte van die fliek kyk en sjokolade vir ontbyt eet.
Jy hoef nie meer How to-boeke te lees nie, want jy kan dit nou al self skryf.
Jy besef die voordeel van ‘n tuisbly-vakansie in die gemak van jou eie huis eerder as om
R1 000 per dag vir ‘n strandhuis te betaal.
Jy aanvaar dit nou dat jou vrou beter weet watter das by watter hemp pas.
Jou vrou aanvaar nou jy is baas van die televisie se afstandbeheer.
Posted in Uncategorized