Sonde met die bure
As jou vierde kind in graad elf is, het jy basies enige iets al beleef. Niks kan jou meer beïndruk nie. Moet egter nooit jou kinders onderskat nie!
Seun Lourens en die bure se dogter, Anel, was saam in die klas en was vriende met voorbehoud. So elke dan en wan was daar ‘n skermutseling wat ‘n kort koue oorlog tot gevolg gehad het.
Omdat ek as skrywer-ma ook ‘n slaaf van die liefde is, was ‘n buurromanses storieboekstof en het ek dan en wan ‘n skimp in die rigting gegooi. “Sy was dan so ‘n oulike meisie!” Lourens het beslis ergerlik teëgekap, “los dit net ma!” Natuurlik het hierdie ma laat los, maar ek het die hele vriend-vyand -verhouding met belangstelling dopgehou. Myself soms afgevra: “Wag, wag sien ek ‘n roering? Is daar ‘n gevoelige noot wat opklink…?”
Toe kom Valentynsdag 2002, my liefde-weerstandige seunskind verander oornag in ‘n Don Juan. Hy koop ‘n speelgoed bokkie, reël met die ouer sussie om die deur twaalfuur die aand oop te sluit en verklaar sy eindelose liefde in die straat tussen ons huise. So is dit basies die begin van ‘n huiwerige verhouding. Van die vyandskap het niks oorgebly nie en die vreugdevure het aanhou brand, jaar na jaar… Die huisgesinne het saamgesmelt tot beste vriende. Die storieboekromanse was perfek. Vierde kinders kon blykbaar nog vir ‘n perfekte verassing sorg.
In April 2008 lui my foon om die verlowing aan te kondig. Dit is ‘n wonderlike manier om die storie sinvol tot ‘happy ever after’ af te sluit. Ek behoort tevrede te voel ek het my storieboekromanse gekry!
Die waarheid is hierdie ma is skielik baie bekommerd. Vriende kies mens mos. Aangetroude familie moet minder aangenaam wees, nie beste maatjies deur dik en dun nie! By wie gaan my skoondogter oor haar skoonma kla, ek is haar ma se beste vriendin! En van watter ouma gaan die kleinkinders die meeste hou? Boeta, die sonde met ons bure gaan nou met mening begin! Honde wat blaf kan jy laat verwyder, hoe gemaak met ‘n skoondogter…?
Wel ,dit is nou behalwe om haar ouma se eetstel te laat erf en sommer net met oorgawe vir haar lief te wees!
So word die sonde dalk besweer!
Posted in Skerts