March 27th, 2011 by Christa Jordaan
Ek dink ons het nou die bewys gekry. Ek het so vol brawade besluit wat ek alles hierdie jaar gaan doen, niks het nog waar geword nie. Dit is die einde van Maart en my eerste bloginskrywing is om te sê my voorneme het misluk. Ek gaan dus weer probeer.
Ek dink die ding is, mens moet dinge doen as jy so besluit. Langtermyn beplanning werk nie in die alledaagse lewe nie. Ek kan beplan om ‘n boek te skryf, maar om my tante te gaan besoek, saam met my buurvrou tee te drink of ‘n epos vir iemand wat ver bly te skryf, is dinge wat jy nou moet doen. Die lewe is ‘n oogwink, net ‘n klein oomblik…
Ek het my oudste broer, ons ouboet, laas maand verloor. In die week wat verby is, vra ek my ander broer iets oor my pa se opleiding in Amerika in die laat veertiger jare. “Dit moes jy eintlik vir Dolf kon gevra het, ek weet nie so baie daarvan af nie,” antwoord hy. Daarvoor is dit egter te laat…
Dit bring my by ‘n groot hartseer van die oomblik. My en Manlief se nuutste boek, “Oudword is nie vir sissies nie -vir mans” het die afgelope weke die lig gesien. Ons het besluit om die boek aan my ouboet op te dra en dit vir eers vir ‘n verrasing te hou. Ons wou die boek aan hom skenk sodat hyself dit kom raaklees. Ek was baie opgewonde hieroor.
Toe die boek drukkers toe is was hy reeds siek, maar ons het nie verwag dat hy nie sal beleef dat die boek die lig sien nie, nou is dit ook inderdaad te laat… Dalk weet hulle al hierdie dinge, troos ‘n welmenende, maar ek sou so graag wou hê hy moes dit saam met ons beleef het! Sê die dinge wat jy wil en moet sê, ons kan nie op môre roem nie!
Posted in blogs having no comments »
March 27th, 2011 by Christa Jordaan
Die Meester het aan al die Engele ‘n taak opgedra. Die laaste taak is aan die Engel met die sagte hart en simpatieke oë gegee. Meters en meters ragfyn goue drade van deernis is in haar hande geplaas met die opdrag: “gaan bind mense in vriendskap.” Daar was egter ‘n uitdruklike waarskuwing by wat sy aan die mense moes gee.
Sy was baie opgewonde oor haar taak. Vriendskap is so volmaakte gawe, het sy gedink. Dit gee soveel vreugde en dit maak ‘n vervullende lewe moontlik. Op aarde het sy mense begin bind. Klein dogtertjies aan mekaar, leerders wat saam in koshuise woon, ‘n vrou en haar man, mense wat saam werk, twee buurvroue, twee vriende wat vroeg oggende saam draf, susters, ‘n ma en dogter en ook klompe uitsonderlike facebook-vriende. Sy was so opgeneem in haar taak, sy het soos die wind deur die aarde getrek. Sy het haar so in die genot van die mooi vriendskapsverhoudings verlekker en totaal vergeet van die waarskuwing wat sy in hul ore moes fluister…, maar dit was egter te laat…
Sy moes die waarskuwing saam met die vriendskap uitgedeel het, sodat die mense dit vanaf die vroegste tye al ter harte kon geneem het…
Wat was die waarskuwing dan tog?
Net dit: ware vriendskapsbande is raar en van so besonderse fyn goud dat daar met die uiterse omsigtigheid daarmee omgegaan moet word.
Mense behandel ander selde met deernis en herken baie selde iets kosbaar as hulle dit ontvang. Omdat sy te laat was en sy dus nie betyds mense daarop attent gemaak het nie, stel vriende soms teleur, verloor ons ware vriende op ons lewenspad en is dit net in uitsonderlike gevalle dat vriende veraltyd met daardie goue draad gebind bly. So word ‘n lewenslange vriendskap byna iets heiligs en moet ons daagliks poog om die meeste te maak van elke vriendskap wat ons het.
As ons nou bewus gemaak is kan ons tog ‘n bietjie van daardie gouedraad-vriendskappe red. Ons moet ons goeie vriende troetel en gereeld vertel dat hulle vir ons kosbaar is.
Posted in Stories having no comments »
March 27th, 2011 by Christa Jordaan
Vroue veral oumas is suckers vir fyn klein babakleertjies. Ek erken dadelik ek kan sulke goed moeilik weerstaan. So was dit ook hierdie week met die pienk skoene. In my verbeelding kon ek klaar daardie klein ewe pienkvoetjies in die skoene sien. Voetjies wat nog nooit geloop het nie, kordaat met pienk skoene.
In die winkel. na ek dit in my kooptrollie gesit, het dit almal se aandag getrek. Een vrou het dit glad van my trollie af geraap en dit onder haar vriendin se oë gedruk, met al die nodige Aaahhh! en oeee! geluide. By die betaalpunt het dit ook weereens ‘n oproer veroorsaak. By die huis kon ek nie wag om vir almal te wys nie, tot die tuinier, Livingstone, moes die skoene aanskou.
Ek het die skoene in my studeerkamer op die tafeltjie gesit en daarna gekyk… Behalwe dat die skoene oulik en sommer net oorweldigend cute is, sê dit so baie, het ek gedink. Dit vertel van die genade van ‘n lewetjie wat ons gaan kom verryk, dit vertel van die eerste tree op die pad van die lewe, dit sê ook van geborgenheid teen die seer van klippies op ‘n lewenspad. Die uitbundige pienk spreek die hoop uit dat haar lewetjie vol vrolike danspassies sal wees. Hoe ekstaties kan mens se lewe nie wees as dit begin “when I put on my dancing shoes” nie!
Laastens, vertel die skoentjies dat sy klaar ‘n plekkie in haar ouma se hart oop getrap het, voor sy die lig van die lewe aanskou het. Ons wag haar met vreugde en afwagting in, die meisie wie se naam, Lewe, beteken.
Posted in Uncategorized having no comments »
March 8th, 2011 by Christa Jordaan
Die onsigbaarheid van geluk
Ek was my lewe lank nog gelukkig en ver bo verdienste geseënd. My opvoeding was uit die boonste rakke en my kinderjare gelukkig. My loopbaan was relatief suksesvol en interessant. Goeie gesondheid agtervolg ons as’t ware en ons gesin het ‘n minimum hartseer en ellende beleef. Ons (langerige) string kinders en kleinkinders het tot dusver net plesier vir die familie gebring. Voorwaar ‘n geseënde lewe.
Maar steeds ervaar ek oomblikke van pessimisme en negatiwiteit. Miskien sou ‘n ekstra bonus hierdie Kerstyd darem handig gewees het. Of sal ek ooit die onseker finansiële tou kan stap vir die duurte van my aftrede wat nie meer te ver kan wees nie? Nee, soos varke graag in modder rondrol, so rol die mens graag in onsekerheid en ontevredenheid rond, heel onbewus van die groot getal seëninge wat ons almal elke dag ontvang. Ons geluk is dikwels onsigbaar vir onsself.
Die tragiese gebeure waaronder talle gemeenskappe dikwels gebuk gaan – waarvan baie deur hulself en hul leiers op hul pad gebring is – skep noodwendig gemeenskappe van leiding en hartseer. Tog is dit bekend dat in die bitterste van tye kinders hulself steeds vermaak, oënskynlik onbewus van hul omstandighede.
Namate kinders grootword, verloor hulle baie van hul fisiese uitbundigheid en energie. So verloor ons volwassenes dalk ons geestelike soepelheid en daarmee saam die vermoë om ons daaglikse geluk werklik raak te sien. Ons oueres soek dikwels iets spesiaals daar ver op die einder, pleks daarvan om ons net oor te gee aan die goeie dinge wat binne ons bereik is.
*********************************************************************************************
Voordele van ouer wees
Jy het waarskynlik kinders om die gras te sny en brood te gaan koop.
Jy het genoeg geld om die motor te laat was. Jy hoef dit nie self te doen nie.
Jy gee nie meer om wat ander mense van jou dink nie.
Jy is gemaklik in jou eie vel.
Jy dra klere wat by jou pas en is tevrede met jou eie klerestyl.
Jy leen nie meer jou gereedskap uit nie en sê dit duidelik vir wie ookal vra.
Jy gaan slaap vroeg sonder om iemand om verskoning te vra.
Jy kan ‘n drankie drink voor die vliegtuig oor is.
Jy kan drie boeke gelyk lees, slegs die helfte van die fliek kyk en sjokolade vir ontbyt eet.
Jy hoef nie meer How to-boeke te lees nie, want jy kan dit nou al self skryf.
Jy besef die voordeel van ‘n tuisbly-vakansie in die gemak van jou eie huis eerder as om
R1 000 per dag vir ‘n strandhuis te betaal.
Jy aanvaar dit nou dat jou vrou beter weet watter das by watter hemp pas.
Jou vrou aanvaar nou jy is baas van die televisie se afstandbeheer.
Posted in Uncategorized having no comments »
December 3rd, 2010 by Christa Jordaan
“Self,” sê ek vanoggend steng vir myself, “volgende jaar gaan daar ‘n verandering in my lewe kom. Ek gaan dinge anders doen. Ek gaan soos gewoonlik opstaan en as Manlief 7.05 ry gaan ek aantrek en stap. Op hierdie punt het “die self” redelik geskok vir ‘n oomblik tot stilstand geruk. Oefening en dus ‘n stappery is nie eintlik deel van my woordeskat nie, maar ek gaan nou anders leef. Ek gaan dan terugkom, vinnig bad en aantrek vir die dag, dan vinnig kyk wat op Facebook gebeur en dan gaan ek werk tot ek my kwota vir die dag klaar het. Die koerant, ‘n gegoogle vir nuwe flieks en eposse sal moet wag tot my kwota woorde klaar is. Dan kan ek ontspan en lekker lees.
Ek wil graag tee drink by vriendinne of by Koekela rondhang met vriende, ek wil boeke-lekkertes verorber en ek wil nog soms net ek wees ook. Ek sal meer tydintensief moet werk as ek alles wil bykom, besef ek.
Ook gaan ek een keer per week op my blog skryf, net vir bietjie perspektief in my lewe.
Posted in blogs having no comments »
May 12th, 2010 by Christa Jordaan
Nuut op die rak.
Vind die ware jy
In die onrus van die jeugjare het ’n mens soveel stimulasie van buite, soveel plesier om na te jaag en dit voel altyd asof die tyd te min is vir die aktiwiteite wat jy in ’n dag, ’n uur of ’n minuut wil inpas. In jou middeljare bedaar hierdie polsende drang na opwinding en dan vra jy jouself af: “Wie is ek eintlik? Wat maak ek op die aarde?” En die belangrikste: “Hou ek ooit van myself?”
Dan is dit tyd om jou lewe te vereenvoudig. Kyk opnuut na jou vriendekring, behou slegs dié wat jou opbou en van jou iemand spesiaals maak. As jy hou van lees, soek skrywers wat jou geestelik aanraak. Lees gedigte wat jou aangedaan laat. Kyk na rolprente wat jou met oorgawe laat lag en huil. Bewonder God se natuur. Dien Hom met vreugde en dankbaarheid. Sê die mooi woorde vir jou geliefdes. “Ek het jou lief” is net vier woorde, maar tog dans engele op die musiek daarvan.
Nommer een verkoper vir die maand by Carpe Diem media!

Posted in Uncategorized having no comments »
November 8th, 2009 by Christa Jordaan
As jou vierde kind in graad elf is, het jy basies enige iets al beleef. Niks kan jou meer beïndruk nie. Moet egter nooit jou kinders onderskat nie!
Seun Lourens en die bure se dogter, Anel, was saam in die klas en was vriende met voorbehoud. So elke dan en wan was daar ‘n skermutseling wat ‘n kort koue oorlog tot gevolg gehad het.
Omdat ek as skrywer-ma ook ‘n slaaf van die liefde is, was ‘n buurromanses storieboekstof en het ek dan en wan ‘n skimp in die rigting gegooi. “Sy was dan so ‘n oulike meisie!” Lourens het beslis ergerlik teëgekap, “los dit net ma!” Natuurlik het hierdie ma laat los, maar ek het die hele vriend-vyand -verhouding met belangstelling dopgehou. Myself soms afgevra: “Wag, wag sien ek ‘n roering? Is daar ‘n gevoelige noot wat opklink…?”
Toe kom Valentynsdag 2002, my liefde-weerstandige seunskind verander oornag in ‘n Don Juan. Hy koop ‘n speelgoed bokkie, reël met die ouer sussie om die deur twaalfuur die aand oop te sluit en verklaar sy eindelose liefde in die straat tussen ons huise. So is dit basies die begin van ‘n huiwerige verhouding. Van die vyandskap het niks oorgebly nie en die vreugdevure het aanhou brand, jaar na jaar… Die huisgesinne het saamgesmelt tot beste vriende. Die storieboekromanse was perfek. Vierde kinders kon blykbaar nog vir ‘n perfekte verassing sorg.
In April 2008 lui my foon om die verlowing aan te kondig. Dit is ‘n wonderlike manier om die storie sinvol tot ‘happy ever after’ af te sluit. Ek behoort tevrede te voel ek het my storieboekromanse gekry!
Die waarheid is hierdie ma is skielik baie bekommerd. Vriende kies mens mos. Aangetroude familie moet minder aangenaam wees, nie beste maatjies deur dik en dun nie! By wie gaan my skoondogter oor haar skoonma kla, ek is haar ma se beste vriendin! En van watter ouma gaan die kleinkinders die meeste hou? Boeta, die sonde met ons bure gaan nou met mening begin! Honde wat blaf kan jy laat verwyder, hoe gemaak met ‘n skoondogter…?
Wel ,dit is nou behalwe om haar ouma se eetstel te laat erf en sommer net met oorgawe vir haar lief te wees!
So word die sonde dalk besweer!
Posted in Skerts having no comments »
November 8th, 2009 by Christa Jordaan
Toe die mense in my stad se slaap diep drome baar
en die mense in joune nog vroegaand fuif en baljaar -
skryf ek verlang-woorde op jou facebook-muur
en my trane vervloei water-wit oor die steilte van tyd en duur.
Parallel leef ons elk in eie millieu,
beelde van skerts en lagdae ge-ets in geheue.
Enerse DNA skuil in ons boere-bloed,
verlange, weet ons, is die anti-pool van soet…
Posted in Gedigte having no comments »
July 18th, 2009 by Christa Jordaan
Ek het weereens die ou verhaal gelees
Haar kersfees was anders gewees...
Daar was die pyn asof haar liggaam skeur
toe hy hom na die lewe beur,
Was sy verdwaas; ontroerd;verheug?
Godskind moes immers aan haar bors kom teug!
'n ewigheid is daar na Hom gestreef
die eerste oukersaand het sý beleef!
Geen bestrikte pakkies gestrooi om 'n boom
net egte engele - waar en vroom!
geen kwynende kerslig
maar die ware lig van Godsgesig.
Haar kersfees was anders gewees
hoe geseënd ek, ek kan daarvan lees!
Elke dag -soveel van bo,
en eenvoud ek - ek moet net glo!
Posted in Gedigte having no comments »
July 18th, 2009 by Christa Jordaan
Vir elke mens is daar ‘n droomplek, ‘n stukkie aarde wonderliker as enige ander lappie grond. Daar wil jy wees en woon en sterwe! Ironies is dit vir weinig beskore om juis daar te woon en te sterwe.
Gertruide Stein het gesê: “America is my country, and Paris is my home town.” Nathaniël Hawthorne het oor Oxford die uitspraak geopper: “The world has no other place like Oxford; it is a despair to see such a place and to ever leave it.”
Waar die Engelse digter, William Wordsworth onder ‘n boom - wat deur homself geplant is - in die skadu van die ou kerk in Grasmere, in die mere-distrik in Engeland, te ruste gelê is, is hy seker gelukkig by uitnemendheid. Grasmere was die plek waarvan hy gesê het: “The most beautiful place on earth.” Hier het hy die genade ontvang, om omring van sy familie, in eie grond begrawe te word.
“I left my heart in San Francisco,” lui die liedjie en die Afrikaanse digter Louis Leipoldt sê innig op papier: “n Hand vol gruis uit die Hantamwyk……. arm was ek gister, maar nou’s ek ryk…” ‘n Vriendin smag na Praag in die lente, ‘n ander na die polsslag van London….
Ek self het my hart tussen die groen klipkampies van Ierland verloor. Ook die hart van Engeland, die koekblikhuisies van Snowhill, wakker ‘n droom. Sou dit my Arcadia wees? Of is dit so dat niemand ooit ‘n eindbestemming het nie, slegs ‘n periodieke rusplek langs die pad, dan reis jy weer verder na ‘n nuwe bestemming en hoop op ‘n Arcadia? Alles bly maar ‘n heerlike droom, ‘n belofte van ‘n sê-nou-maar ander lewe… In realiteit is my plek daar waar my geliefdes is, so hier is ek tuis en tevrede, vir nou…
Posted in Skerts having no comments »